Bible

Designed

For Churches, Made for Worship

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

2 Corinthians 8

:
Afrikaans - AFR20
1 Ons laat julle ook weet, broers, van die genade van God wat aan die •gemeentes in Macedonië gegee is:
2 dat hulle, te midde van swaar beproewing as gevolg van verdrukking, hulle oorvloedige vreugde en hulle diep armoede laat oorvloei het in 'n rykdom aan vrygewigheid van hulle kant af.
3 Ek getuig dat hulle na vermoë, ja, selfs bo vermoë, bereidwillig was.
4 Hulle het pleitend by ons aangedring om deel te kan aan die genadewerk van hulpverlening aan die heiliges.
5 Dit was nie slegs soos ons gehoop het nie; trouens, hulle het hulleself eers aan die Here gegee, en toe, deur die wil van God, ook aan ons.
6 Gevolglik het ons Titus sterk aangemoedig om, soos wat hy hierdie genadewerk reeds begin het, dit ook net so by julle te voltooi.
7 Soos julle nou van alles oorvloed het, geloof en welsprekendheid en kennis en alle ywer en die liefde, wat deur ons toedoen onder julle is, sorg dat julle ook in hierdie genadewerk oorvloedig is.
8 Ek dit nie as 'n opdrag nie, maar om aan die hand van ander se ywer die egtheid van julle liefde te toets.
9 Want julle ken die genade van ons Here Jesus •Christus: dat Hy wat ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word.
10 En ek gee my mening hieroor, want dit strek tot julle voordeel julle wat reeds 'n jaar gelede begin het om dit nie net te doen nie, maar dit ook te wil doen.
11 Voltooi dan nou ook die taak, sodat, net soos julle bereidwillig was om dit te wil doen, julle ook bereidwillig sal wees om dit te voltooi uit wat julle het.
12 Want as daar bereidwilligheid is, is dit aanneemlik volgens wat 'n mens het nie volgens wat jy nie het nie.
13 Dit beteken nie dat ander verligting kry en julle swaarkry nie, maar wel dat daar ewewig sal wees.
14 Julle huidige oorvloed vul hulle tekort aan, sodat hulle oorvloed weer julle tekort kan aanvul, en daar so ewewig kan wees.
15 Soos daar geskryf staan: “Die een met baie, het nie te veel gehad nie, en die een met net 'n bietjie, nie te min nie.”
16 En aan God die dank, wat dieselfde ywer in julle belang in die hart van Titus gegee het.
17 Want hy het wel ons versoek ontvang, maar het ook baie ywerig en vrywillig na julle toe vertrek.
18 En saam met hom het ons die broer gestuur wie se lof in al die •gemeentes besing word oor sy werk vir die evangelie.
19 En nie net dit nie: hy is ook deur die gemeentes aangewys as ons reisgenoot in hierdie genadewerk, wat deur ons verrig word tot verheerliking van die Here en as bewys van ons bereidwilligheid.
20 So wil ons voorkom dat iemand ons verdink oor hierdie ruim som wat ons behartig.
21 Want ons is bedag op wat reg is, nie net voor die Here nie, maar ook voor mense.
22 Saam met hulle stuur ons ons broer, vir wie ons dikwels en in vele opsigte getoets, en ywerig bevind het, en wat nou nog yweriger is, deur sy groot vertroue in julle.
23 Wat Titus betref, hy is my deelgenoot en medewerker in julle belang. Wat ons broers betref, hulle is gesante van die gemeentes, 'n eer vir •Christus.
24 Lewer dan aan hulle voor die gemeentes die bewys van julle liefde en van ons trots op julle.